Send us Fan Mail
VARSVANDAG se Tweede Nuusbrief vir November.
Twee Bome – Twee Stede!
Goeiemôre! Hier is die nuus uit die jaar 70 n.C.
Ons korrespondent op die eiland Patmos berig dat ’n sekere Johannes, een van die Here Jesus se dissipels, in ’n gesig skrikwekkende openbarings van die Here Jesus self ontvang het. Dit blyk dat die stad Babilon, waaroor ons vroeër berig het, groot invloed gehad het. Dit het al die nasies van die wêreld met sy voorbeeld oorheers en mislei. Opstand teen God het soos ’n epidemie versprei, saam met die idee dat die mens sy eie redding sonder God kan uitwerk. Dit het mense aansien gegee, want dit het gelyk of hulle dit met hul eie prestasies verdien het. Johannes het gesien hoe Babilon ondanks al sy prag en praal, met alles en almal wat dit verteenwoordig, vernietig word. (Openbaring 17 en 18, veral 17:18 en 18:23)
Dit lyk asof die wêreld se godsdienste ook uit hierdie opstand gebore is. Elke godsdiens vereis sekere offers van sy aanhangers, sodat hulle die guns van God of hulle gode kan verdien. Hulle is almal besig om hulle eie torings te bou, hulle eie redding uit te werk en vir hulleself ’n naam te maak, alles deur hul eie pogings. Om te dink dat dit alles op vernietiging gaan uitloop. . .
Ons weet almal dat God ’n verbond met Abraham gesluit het. Anders as by Babel, was deel van hierdie verbond ’n belofte dat God Abraham se naam groot sou maak. Tot vandag toe nog weet so baie mense wie Abraham was. God het beslis sy belofte nagekom. En daar was nog ’n belofte: al die nasies sou in hom geseën wees. (Genesis 12 en 15)
Ons korrespondent uit Galasië berig dat Paulus verduidelik hoe ons Abraham eintlik as die vader van twee verbonde moet sien. Hy en Sara het hulle eie toring gebou: hulle het self ’n plan gemaak om ’n nageslag te kry, al was dit nie presies soos God gesê het nie. Hagar verteenwoordig die verbond wat by die Sinai gesluit is. Sy beeld die huidige Jerusalem uit: slawerny, mense wat slawe van ’n wet is, mense wat van die boom van die kennis van goed en kwaad eet. Alles tevergeefs. (Galasiërs 3-5, veral 3:16 en 4:21-5:1 asook 5:16-26)
Dit staan direk teenoor die nuwe hemelse Jerusalem. Dit verteenwoordig kinders wat volgens die belofte gebore is: elkeen wat deur die Gees gebore is en deur die Gees gelei word, elkeen wat in Jesus Christus glo en Hom gehoorsaam. Dit is die stad waarna Abraham uitgesien het. Johannes berig dat hy hierdie nuwe Jerusalem gesien het. Dáár vloei die rivier van die water van die Lewe uit die troon van God en die Lam, en die Boom van die Lewe dra elke maand sy vrugte. Is dit nie wonderlike nuus nie? (Galasiërs 5:16-26, Hebreërs 11:10 en Openbaring 22:1-5)
Kan dit wees dat die meeste mense vandag nog verdwaal in ’n woud met net twee bome?
Terug by vandag:
Laat ons weet wat jy van die twee bome dink. Ons hoor graag van jou.
Die jaar vlieg verby, en nou-nou is dit Kersfees en vakansietyd vir baie mense. Ons hoop jou planne is in plek en alles werk uit soos jy beplan het.
In hierdie tyd kom ons personeel ook bymekaar om te bid vir die jaar wat voorlê. Ons vertrou die Here vir ons finansies in die nuwe jaar. Bid gerus saam met ons, en oorweeg dit om Christianityworks in jou begroting in te sluit. Geen bydrae is te groot of te klein nie. Ons waardeer elke rand, en jy kan seker wees dat dit oordeelkundig bestee word.
Seën, vrede en opregte VARS groete vir jou, van
Jokkie, Annelie en die VARS-span
Support the show
Enjoying The Content?
For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus!
DONATE R50 MONTHLY