Send us Fan Mail
Goeiemôre! Hier is die nuus uit die jaar 49 n.C.
Ons korrespondent in Galasië berig dat ’n brief van die apostel Paulus pas aan die gemeente voorgelees is. Daarin waarsku hy ernstig teen dwaalleraars wat die gemeente - in sy afwesigheid - weer onder die vloek van die wet wil inpraat. Dit klink kompleet of hierdie mense verblind is en nie meer helder kan dink nie! Paulus skilder in sy brief die reuse-kontras tussen hierdie twee maniere van dink. Mens wonder skoon oor hierdie beheptheid om die nuwe geloof in Christus te probeer kelder. (Galasiërs 3 en 4, veral 3:10-14).
Dit herinner sterk aan Adam en Eva en die vreeslike gevolge van húlle keuse. Hulle wou mos eerder self soos God wees en tussen goed en kwaad onderskei. Hulle wou self weet wat reg en verkeerd is, wat eintlik beteken het dat hulle God nie meer nodig sou hê nie. Onafhanklikheid!
Hoe som ’n mens reg en verkeerd in een woord op? Ja, die WET! Al het die Tien Gebooie eers baie later gekom, lê die wortel daarvan reeds in Genesis - soos ’n denkbeeldige lyn regdeur die boom van die kennis van goed en kwaad. Tot vandag toe sit die hele wêreld vasgevang in hierdie manier van dink. Mense dink die een kant van die boom is goed en die ander kant is sleg, en as hulle net hard genoeg probeer om "goed" te wees, sal hulle oukei wees. (Genesis 3)
Maar die waarheid is dat die gevolge van hierdie boom in die dood eindig. Die ware skeidslyn lê eintlik tussen die boom van die kennis van goed en kwaad aan die een kant, en die Boom van die Lewe aan die ander kant. Die Boom van die Lewe is Jesus self—gekruisig, gesterf en begrawe, maar opgestaan, opgevaar na die hemel en vandag aan die regterhand van die Vader. Dít is ’n lewende verhouding met Hom deur die Heilige Gees!
Kan ons hierdie voortdurende aanslag op die mens om onafhanklik en rebels te wees, koppel aan die vyand self? Dit lyk beslis so, want die profete Jesaja en Esegiël het sy rebellie teen God lankal reeds opgeteken. (Jesaja 14:12-15 en Esegiël 28:11-15).
Selfs die Ou Testament is vol name van manne wat in ’n intieme verhouding met God geleef het - dink maar aan Abraham, Moses, Joshua, Dawid en die profete. Ons korrespondent berig dat Paulus ook vir die Korintiërs hieroor geskryf het. Hy verduidelik dat mense verblind word sodra die wet aan hulle voorgehou word - amper soos ’n sluier oor hulle oë. Maar daardie sluier verdwyn die oomblik wanneer hulle deur die Heilige Gees na God toe draai. (2 Korintiërs 3:15-18).
Dit bring ons by die groot vraag: “Van watter boom leef ek en jy vandag?” Watter vraag regeer jou lewe? Is dit: “Wat is die regte of verkeerde ding om te doen?” Of is dit eerder: “Wat sal Lewe bring in my verhoudings, in my gesin, in my werkplek en in my hart?”
Terug by vandag:
Ons wil vreeslik graag jou kommentaar oor die daaglikse VARS-boodskappe hoor. Het die Here iets besonders in jou lewe gedoen? Vertel ons daarvan! Vertel ook vir ander en deel gerus die boodskappe met hulle—dis presies hoekom ons dit doen!
Laat weet ons ook sommer of die nuwe formaat van ons nuusbrief vir jou werk, of dalk irriteer. Ons wil regtig weet en ons het nie lang tone nie!
En soos jy weet, vertrou ons die Here elke maand om te voorsien sodat die begroting klop. Jy weet hoe dit werk!
Seën, vrede en opregte VARS-groete,
Jokkie, Annelie en die VARS-span
Support the show
Enjoying The Content?
For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus!
DONATE R50 MONTHLY