Send us Fan Mail
Spreuke13:10 Selfverheffing lei altyd tot twis; dié wat goeie raad aanneem, het wysheid.
Het jy al opgemerk hoe die mense met die grootste monde; die leë blikke wat die grootste geraas maak, selde einduit volhou? Hulle skitter helder vir ’n oomblik... en dan brand hulle uit. Maar die stilles - die bestendiges, die nederiges - hulle is op die ou end die mense op wie jy regtig kan staatmaak.
Verbeel jou jy is op ’n onbewoonde eiland gestrand en jy kan net een metgesel kies. Aan die een kant staan die trotse held - vol selfvertroue en skitterend. Aan die ander kant staan die nederige, stadige werkesel - bestendig, sagmoedig en beskeie.
Wanneer die storms uitbars en die nagte lank word, is dit nie die indrukwekkende een wat jy aan jou sy sal wil hê nie. Dis die een wat luister, stil-stil werk en nie applous nodig het om aan te hou nie.
Dis die ding van trots. Dit lyk dalk kragtig, maar dis bros. Dit stoot mense weg. Dit oorskat homself, neem oorhaastige besluite en weier om sy eie swakhede te erken.
Nederigheid, aan die ander kant, is glad nie swakheid nie. Dis krag onder beheer. Dis om te weet wie jy is - niks meer nie, niks minder nie - en om te lewe sonder daardie uitputtende behoefte om jouself heeltyd te moet bewys.
Spreuke 13:10 Selfverheffing lei altyd tot twis; dié wat goeie raad aanneem, het wysheid.
Met ander woorde, trots lei jou altyd in konflik in - van buite én van binne. Nederigheid berei egter jou hart voor om te leer, te groei en verhoudings wat hou, te bou. Dit is die houding wat Jesus self as voorbeeld gestel het - deur te dien, te luister en ander in ag te neem, in plaas daarvan om Homself te verhef.
Wil jy eerder ’n groter seën wees? Kies nederigheid. Laat iemand anders die eer kry. Vra ’n vraag, in plaas daarvan om jou eie punt reg te bewys. Vier iemand anders se sukses, in plaas daarvan om mee te ding.
Op daardie onbewoonde eiland - en in jou regte, alledaagse lewe - is dit altyd die nederige hart wat jou deur die ding dra.
Dit is God se woord...vars...vir jou...vandag.
Support the show
Enjoying The Content?
For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus!
DONATE R50 MONTHLY